VISION & MISSION

MISSIE

“Om ‘n min moeite, doeltreffende en ekonomiese ras te produseer wat voldoen aan die hoë eise van die beesvleisbedryf”

Dit word as volg behaal:

*Kalwingsgemak is van die grootste belang en ons streef daarna om die gemiddelde geboortegewig op 32 kg te hou.

‘n Geregistreerde Brangus is geneties poenskop. Sodoende word die arbeid en fustrasie wat met onthoring gepaard gaan uitgeskakel. Die Brangus is doeltreffend deurdat ‘n medium raamgrootte-koei (ongeveer 500kg) ‘n kalf van 230kg sal speel wat bykans 47 % van haar liggaamsmassa is.

Die Brangus is ‘n ekonomiese dier wat nie spesiale aandag verg nie. Selfs stoetbulle loop in die veld. Sterk moederlyne is ‘n karaktereienskap van die ras wat gehardheid, aanpasbaarheid vrugbaarheid en voldoende melkproduksie weerspiël.

VOORDELE VIR DIE KOMMERSIËELE BOER

Brangus beeste word maklik afgerond. Goeie GDT (Gemiddelde daaglikse toename), VOV (Voeromskakelingsverhouding) en slagpersentasie maak van die Brangus die ideale keuse vir die voerkraal.

Die relatief klein kop en gladde beenstruktuur verhoog die slagpersentasie. In 1999 het die ras die hoogste slagpersentasie in Bloemfontein behaal asok bo gemiddelde indekse.

VOORDELE VIR DIE VERBRUIKER

Die verbruiker sluit in die huisvrou, restaurant en ander vleis liefhebbers. Brangus voorsien sagte en sappige vleis wat bydra tot die “aangename eet-ervaring” wat nodig is om die rooivleisbedryf te bevorder. In 1999 het Brangus die eerste en tweede plekke in die sagte beesvleiskompetisie by die Bloemfontein skou behaal.

Gedagte aan bogemelde faktore is dit verstaanbaar dat vyf uit elke tien van die grootste kommersiële boere in Amerika Brangus teel. Die ras is baie goed aangepas by Suid-Afrikaanse omstandighede met kuddes van tot 1600 geregistreerde diere.

Die Brangus Genootskap is aktief met klubs in verskeie streke.

VISIE

“Om sistematies en op grond van wetenskaplik gefundeerde feite die Brangus as die mees toonaangewende vleisbeesras in Suid-Afrika te vestig”
Die Brangus ras kombineer die mees prominente eienskappe van twee uitstaane vleisbeesrasse naamlik die Brahman en die Angus.

Nie alleen is die Angus een van die grootste vleisbeesrasse nie, maar beskik ook oor uitstaande eienskappe soos hoë vrugbaarheid , top vleiskwaliteit en die poenskop-faktor.

Die Brahman daarenteen het ‘n heel ander bouvorm, is siektebestand en aangepas vir uiterste temperature.

Produksie georienteerde boere het hierdie aanvullende en alles omvattende faktore geidentifiseer en waardering getoon en dit het aanleiding gegee tot die stigting van ‘n Brangus Telersgenootskap in Amerika in 1948.

Onder aanvoering van die Camphers, Greens en andere is die Brangus Genootskap in Suid-Afrika in 1963 gestig. Amptelike erkenning is in 1988 aan die Brangus ras verleen en die doelwit om die beste te wees word nog steeds nagestreef.

Daar is reeds 14 553 (2005) geregistreerde Brangus beeste en aangesien die Brangus beskou word as een van die rasse in Suid-Afrika wat die vinnigse groei, word dit verwag dat getalle met die implementering van die grootraam teelprogram sal vermeerder.

Ons teelprogram is sodanig dat kwaliteit diere met die minimum rasstandaarde geidentifiseer kan word. ‘n Teelprogram word gebruik waarvolgens ‘n dier kan kwalifiseer indien dit voldoen aan die prestasietoetsstandaarde en sekere rasvereistes. Dit stel Brahman-, Angus- en enige ander vleisbeestelers in staat om goeie kwaliteit en te volle geregistreerde Brangus te produseer. Die prosedure is as volg:

HULPSTAMBOEK A

Geregistreerde Brahman vroulike diere.
Fenotipiese Brangus van ander rasse.
Graad Angus vroulike diere.
Die nageslag van Brahman en Angus tipes.

HULPSTAMBOEK B

Geregistreerde Angus vroulike diere.Nageslag van:
Brahman (SP) x Angus (SP)
Brahman (SP) x Brangus (C & SP)
Appendix A x B, C & SP

HULPSTAMBOEK C

Nageslag van:
Apendix B x Brangus (C & SP)

VOLGEREGISTREERD (SP)

Nageslag van:
Appendix C x Brangus (C & SP)
Brangus (SP) x Brangus (SP)