Bemarker vir hoofsaaklik Uie en Aartappels vir Onverwacht Boerdery en Sirkel-N-Landgoed.
Almal se lewens is besig en almal deel in die groot “rat-race” waar elkeen soms sukkel om by te bly. Almal het bekommernisse en almal se werk verg baie uit ‘n mens so ek deel dié met die grootste respek vir elke beroep en rigting.
Maar in my ervaring kom boere baie mense tee, vriende, familie, kennisse en vreemdelinge wat dikwels ‘n wanpersepsie het van boerdery, die lewe van ‘n boer, om te werk vir ‘n boer en die lewe van op die plaas bly. Dit klink “idillies” en in ‘n mate is dit, ek sal dit eerder beskryf as “bevoorreg”, maar so “idillies” soos dit klink soveel meer uitdagings is daar.
Ek was eendag in ‘n gesprek waar iemand vir ‘n boer gevra het “wat is fout” en die boer se antwoord was “ek is net moeg” en die persoon sê/vra die boer “aggg man van wat is jy moeg?” Met so laggie aan die einde. Ek was ook al teenwoordig waar iemand die opmerking gemaak het dat hulle hul 9-5 werk wil los en bietjie begin boer. En in my stille gedagtes het ek gedink “Daar is niks “bietjie” in boerdery nie”. En menigde kere was die opmerking al gemaak “jy werk mos vir jouself so dis lekker”. Dan is daar die siening dat klein of groot boerderye en enige tipe boer mos “ryk” is want jy betaal duur vir vars produkte of vleis in die winkels. Maar wat baie nie besef nie is die prys wat jy betaal in die winkels, is nie die prys wat ‘n boer kry vir sy produk nie.
As jy dalk een van die mense al was wat ‘n boer so geantwoord het of dalk die idilliese prentjie het van hoe dit is om ‘n boer te wees, vir ‘n boer te werk, ‘n boer se kind te wees of n boer se vrou te wees wil ek vir jou ‘n meer realistiese siening gee oor wat dit regtig is om te boer of deel te wees van ‘n boerdery. Al werk ‘n boer vir homself, werk hy om die grond wat God hom leen tot die beste van sy vermoë te bestuur, bewerk en op te pas. Hy werk om duisende monde te voer deur die oeste wat hy lewer en mark toe stuur waar jy as verbuiker dit in winkels op die rakke koop. Hy werk om miljoene rande se lone en salarisse te kan betaal elke jaar aan sy werknemers wat kos op hulle gesinne se tafels moet sit, kinders het wat moet skool gaan en studeer en ‘n ekstra geldjie het vir vakansie elke jaar. Hy werk om elke dier op sy grond te voer wanneer die reën laat kom of dalk nie genoeg was om die weiding te herstel na ‘n koue winter nie. Hy werk om kapitaal op te bou vir daardie moeilike jaar of jare wat dalk mag kom wanneer mark pryse deur die grond val of daar ‘n oes verwoes was deur hael, wind, teveel reën, te min reën, boorgate wat opdroog, siekte of uiterse hitte waarvan nie een van hierdie redes binne sy beheer is nie! Hy werk om genoeg geld te maak sodat hy die volgende plant seisoen dalk ‘n hektaar of twee meer kan plant om die boerdery te laat groei, sodat bonusse betaal kan word en elkeen wat deel is van die boerdery se lewensgehalte nie sal afneem nie. Hy werk om genoeg kapitaal te hê vir dit wat herstel moet word of om ou masjienerie op te knap en te diens sodat die landerye mooier geplant, geoes en bewerk kan word wat sal bydrae tot beter oeste, dat sy pakhuis van so gehalte is dat hy die produkte kan verpak tot die beste van sy vermoë sodat die verbruiker waarde vir sy geld kry.
Hy werk om sy miljoene rande se diesel elke jaar te betaal vir generators wat moet hardloop want a.g.v loadshedding loop die pivots nie klaar nie en pompe kan nie water pomp nie, pakhuise moet aan die gang bly en dan moet trokke nog ry, trekkers en werksvoertuie. Dan nie eers gepraat van water en Eskom rekeninge nie. Hy werk vir sy kinders, sodat hulle kos op die tafel het, skool toe kan gaan, kan gaan swot, ‘n voertuig kan hê om te kom kuier vakansies want die plaas is vêr van alles. Hy werk ure wat elke dag verskil want ‘n boerdery is nie ‘n besigheid waar elke werknemer inklok in die oggende en 5 uur vanmiddag sy kantoor deur sluit nie. Dis nie ‘n besigheid wat jy vrydag na 5 op naweek gaan en eers weer maandag hoef te werk nie. Dis nie ‘n besigheid wat Desembers sluit en eers weer Januarie in die nuwe jaar sy deure oop maak nie. Boerdery en om te boer is ‘n fisiese werk wat 24 uur, 7 dae ‘n week, 12 maande van die jaar bedryf en bestuur moet word. Want onthou as daar nie iets op die lande is of produkte is wat bemark kan word nie maak ‘n boer nie geld nie en uitgawes hou nooit op nie. Die lys gaan aan, maar ‘n boer wat vir homself werk, werk eintlik vir soveel ander daar buite.
Een van die faktore wat ‘n boer skei van die korporatiewe wêreld en besighede is hoe ongelooflik baie afhanklik hy as boer en die boerdery is van die wonderlike natuur van die liewe Vader. Nie net stygende pryse, finansiele druk, die ekonomie, politiek en veiligheid is waaroor ‘n boer bekommer nie, maar wind, weer, temperatuur, brande, water, plant siektes en sieklike diere dwing ‘n boer gereeld op sy kneë. ‘n Boer weet dat hy beheer het tot op ‘n sekere punt en die res moet hy oorlos in God se genade.
‘n Boer weet wat dit is om met tye baie ryk te wees en met tye baie arm te wees ongeag van hoe suksesvol of hoe groot die boerdery is. Hy weet wat dit is om lang ure van harde werk in te sit met die wete dat “af dae” skaars is. Hy weet wat dit is om min betrokke te wees by sy kinders want hys vroeg oggend uit die huis voor hulle wakker is en laat in die aand by die huis wanneer die kinders al slaap. Hy weet wat dit is om die bietjie tyd saam sy vrou te benut ten volle want sy is die steunpilaar, klankbord en die een wat die huishouding bymekaar moet hou. Hy weet wat dit is om aande om te lê en planne te maak, somme te maak en te beplan vir die onvoorsiene. Hy moet finansies verstaan, tegnologie, chemie, fisika en anatomie verstaan. Hy moet plante groei, plant siektes, diersiektes en weerspatrone verstaan, hy moet grond analises verstaan. Hy moet die ekonomie, politiek en verbruikers verstaan. Hy moet kan werk met mense, diere, masjinerie en die natuur.
Hy weet op die ou einde van die dag hang dit net eintlik af van hoe vol sy emmer van genade is, met die wete dat die liewe Vader nooit die emmer leeg sal laat loop nie. Want soms om te Glo, Hoop en te bid is al wat ‘n boer kan doen.
Ja die belonings is groot, klein en so bevredigend maar dit kom teen ‘n prys, want as jy nie al die uitdagings beheer, bestuur en verstaan nie en as jy nie regtig daai passie het om te boer en jou lewe daaraan toewy nie, is die belonings nie daar nie! ‘n Boer werk nie net met die doel om 6 of meer nulle in sy bankrekening te sien nie, dit gaan nie net vir ‘n boer oor hoeveel geld hy kan maak nie, hy werk vir mense, sy mense en diere want dis sy Roeping en sy passie om te versorg en te voorsien.
Dis ‘n voorreg om op n plaas te bly, te boer en ‘n boer te wees. Jyt ‘n tipe vryheid wat baie mense na smag. Jy beleef God se wonderlike natuur elke dag. Maar saam met dit kom baie werk, baie beplan, baie verstaan, baie bid, baie glo en hoop.
So nee die lekker wat jy beleef as jy vir jou vriend wat ‘n boer is gaan kuier of vakansies op die plaas gaan spandeer saam familie, is nie wat ‘n boer elke dag beleef nie. Hy deel die lekker met jou want dis sy trots en die lekker en goed wat jy sien is wat hom moed gee en laat aanhou en uithou om die minder lekker aan te pak.
Voor jy ooit weer vir ‘n boer sê/vra “ag man van wat is jy moeg” hoop ek die laat jou besef dat as ‘n boer sê hy’s moeg is hy REGTIG MOEG, en besluit jy eerder om hom te antwoord met iets meer ondersteunend. Want as dit nie vir boere was nie, het jy nie elke dag vars groente, vrugte, brood, eiers, melk en n lekker stuk vleis, net om ‘n paar te noem, op jou etenstafel gehad nie.