BEESVIRUSDIARREE

Beesvirusdiarree (BVD) is ‘n siekte veroorsaak deur die BVD virus en het die potensiaal om groot ekonomiese verliese in ‘n kudde te veroorsaak. BVD is ‘n RNA virus wat wêreldwyd teenwoordig is en beeste van alle ouderdomsgroepe affekteer. Dit veroorsaak prominente immuunonderdrukking wat tipies lei tot sekondêre longontsteking en/of diarree. Indien dragtige koeie met die virus besmet word kan dit tot reproduksie verliese- en die geboorte van permanent besmette kalwers lei. 

Die virus word uitgeskei in die liggaamsvloeistowwe van besmette beeste (veral speeksel en neusuitloopsel) en versprei hoofsaaklik via inname deur die mond en neus dmv direkte kontak met besmette beeste. Die virus kan ook versprei deur besmette artikels soos waterkrippe, voerbakke, neustange, klere, skoene en voertuie. 

Daar is baie stamme van BVD virus wat geklassifiseer word in twee genotipes, naamlik BVD Tipe 1 en BVD Tipe 2. In beide hierdie twee genotipes, word daar onderskei tussen een van twee bioptipes, naamlik sitopatiese stamme en nie-sitopatiese stamme. Laasgenoemde het die vermoeë om beeste permanent te besmet en hierdie beeste word “PI kalwers” genoem, afkomstig van die engelse term “persistently infected”. Hulle skei deurlopend BVD virus af gedurende hulle leeftyd en dien as die hoofbron van infeksie vir ander beeste.

BVD besmette beeste kan tydelik besmet of permanent besmet wees.

TYDELIKE INFEKSIE

Indien ‘n bees van enige ouderdom besmet word met die BVD virus, ontwikkel hierdie bees ‘n tydelike infeksie, met of sonder kliniese simptome. ‘n Tydelike infeksie is verbygaande, omrede die besmette bees na ‘n tydperk immuniteit ontwikkel en van die infeksie ontslae raak.

PERMANENTE INFEKSIE

Alle beeste wat permanent besmet is, is gebore met ‘n permanent infeksie. Dit gebeur wanneer ‘n koei wat nie voldoende immuniteit teen BVD het nie en tussen ongeveer 45 – 125 dae dragtig is, tydelik besmet word met BVD. Die virus vermeerder en gaan dan oor in ‘n viremiese fase, wat beteken dat dit deur die bloedstroom versprei. Sodoende besmet die virus dan die ontwikkelende fetus. In hierdie stadium van die fetus se ontwikkeling is sy immuunsisteem nog nie volledig ontwikkel nie en besmetting met BVD lei tot ‘n toleransie teenoor die virus. Hierdie kalf word dan as ‘n permanent besmette (PI) kalf gebore en skei vir die res van sy lewe BVD virus af, sonder om ooit ‘n immuniteit teen die virus te ontwikkel. 

‘n PI kalf is die grootste bron van infeksie en verspreiding van BVD. Hulle kan hulle hele lewe lank BVD afskei maar skei die meeste af terwyl hulle nog kalwers onder 1 jaar van ouderdom is. Alhoewel hulle nie dikwels ouer as ‘n jaar oud word nie, is dit ook nie noodwendig die “krummel” in die kudde wat die PI kalf is nie. Hulle kan gesond voorkom en dit is met ander woorde nie altyd moontlik om hulle met die oog uit te ken nie. Nou en dan word ‘n PI kalf ‘n koei en so koei sal outomaties weer geboorte gee aan ‘n PI kalf. Let wel dat tydelik besmette beeste ook die virus versprei, maar dit is by ver die PI beeste wat die belangriker rol speel in die verspreiding van die siekte. 

In die inleiding was genoem dat BVD beide respiratoriese siekte, sowel as reproduksie verliese kan veroorsaak. BVD is ‘n virus wat verskeie weefsels aantas en gevolglik verskillende simptome tot gevolg het. ‘n Akute BVD infeksie lei tipies tot immuunonderdrukking en opportunistiese siektes soos longontsteking en diarree kan volg. Die risiko vir jong kalwers, speenkalwers en voerkraalkalwers is veral groot om longontsteking te ontwikkel. BVD word erken as ‘n belangrike faktor in multifaktoriale longontsteking in beeste. Enting met ‘n entstof wat geregistreer is om respiratoriese beskerming te bied teen BVD word aanbeveel om produksie verliese as gevolg van hierdie siekte te bekamp. 

Soos reeds genoem, kan ‘n koei wat nie voldoende immuniteit het nie en besmet word met BVD tydens ongeveer 45-125 dae van dragtigheid, geboorte gee aan ‘n PI kalf. Indien so ‘n koei in enige ander stadium van dragtigheid besmet word, kan dit lei tot aborsies, doodgebore kalwers, misvormde kalwers of swak kalwers wat gebore word, afhangend van watter stadium van dragtigheid die koei is wanneer sy besmet word. Verliese kan baie groot wees, veral in kuddes wat geen immuniteit teen BVD het nie en voorkoming is beslis aangewese. 

In ‘n studie gepubliseer in die joernaal met die naam “Biologicals” in 2003, het ‘n kudde van 67 koeie verlies gelei van gemiddeld $40 – $95 per koei as gevolg van BVD. In vandag se rand terme is dit ongeveer R 1 260 – R2 979 verlies per koei. Hierdie wys duidelik dat die negatiewe finansiële impak van BVD op ‘n kudde geweldig groot kan wees. 

Hierdie negatiewe impak in ‘n kudde kan deur stategiese enting bekamp word. Indien ‘n koei ongeveer 1 maand voor dektyd met ‘n entstof geënt word wat geregistreer is om fetale beskerming te bied teen die geboorte van PI kalwers, ontwikkel sy ‘n beskermende vlak van immuniteit, wat verhoed dat die virus in die bloedstroom versprei en die fetus aantas. Bo en behalwe fetale beskerming, sal enting ook repsiratoriese beskerming verleen aan die koeie wat geënt is. Wanneer die potensiële verliese van ‘n kudde infeksie inaggeneem word, is die koste van ‘n goeie entstof beslis geregverdig. 

As stoetprodusent, is daar nog ‘n verdere verantwoordelikheid om te verseker dat jou kudde goed geënt is, om sodoende te verseker dat die risiko om ‘n PI dier te verkoop so laag as moontlik is. Bulle wat permanent besmet is of ‘n akute viremiese infeksie het, se semen kan ook die virus versprei. Teel of inseminasie met so ‘n bul se semen kan tot onvrugbaarheid en vroeë embrioniese dood lei. 

Die sleutel om BVD in ‘n kudde te bestry, is om PI beeste uit die kudde te verwyder en te verhoed dat daar enige nuwe PI beeste die kudde betreë. Dit kan gedoen word deur drie fundamentele areas van bestuur aan te spreek. 

Enting

Wanneer koeie geënt word voor dektyd, soos hierbo verduidelik, kan dit verhoed dat nuwe PI kalwers gebore word.

Indien BVD reeds in ‘n kudde vermoed word, moet die kudde getoets word om PI beeste te identifiseer en hierdie beeste moet geprul word. Die virus kan geidentifiseer word deur PKR toetse van oorknippe te doen. ‘n Veearts word normaalweg ingespan om hiermee te help.

Laaste maar nie die minste nie… Biosekuriteit. Die belangrikste aspek hiervan is om blootstelling aan potensieël besmette beeste tot ‘n minimum beperk. 

BVD is ‘n belangrike siekte wat ‘n negatiewe impak op produksie en reproduksie in beeskuddes kan hê, maar deur goeie bestuur en strategiese enting kan hierdie risiko beperk word. ‘n Plan is immers ‘n boerdery!