GOED BEPLANDE DEK- EN KALFSEISOEN KAN TOT ‘N OPTIMALE VOEDINGSPEIL BYDRA

Picture of Dr Vlok Ferreira
Dr Vlok Ferreira

Nasionale Tegniese Bestuurder, Molatek

‘n Dekseisoen is noodsaaklik ten einde teelkoeie se kondisie goed te bestuur. Dit is van kritieke belang dat ‘n deksoesoen se tydsduur (lengte) van só aard is dat kalfpersentasie en speenmassa van koeie ge-optimaliseer word. ‘n Kort dekseisoen laat ruimte daarvoor en kan tot verhoogde produktiwiteit lei. Daarmee saam het ‘n koei se kondisie tydens kalwing ‘n invloed op haar vermoë om ‘n kalf goed groot te maak, asook haar hersteltydperk nadat sy gekalf het. Haar liggaamskondisie tydens kalwing is sterk gekorreleerd met die geboorte van ‘n sterk, swaar kalf en die afskeiding van voldoende melk vir haar kalf. Dít bevorder ook die hervatting van gereelde hitteperiodes so gou moontlik na kalwing asook herbevrugting binne drie maande na kalwing en haar opvolgende laktasieprestasie.

KIES JOU DEKSEISOEN REG

‘n Koei se voedingsbehoeftes bereik ‘n maksimum ongeveer ses tot 14 weke ná kalwing. Dit moet in ag geneem word wanneer die korrekte dek- en kalfseisoen vir ‘n bepaalde gebied beplan word. ‘n Gebied se reënseisoen moet in die proses in ag geneem word. ‘n Dekseisoen vanaf Desember tot Januarie is in die meeste somerreënvalgebiede optimaal, omdat ‘n hoër voedingspeil vanaf vyf tot ses weke na kalwing ‘n koei se melkproduksie stimuleer. Daarmee saam word ovulasie en dus herbesetting ook bevorder. ‘n Dekseisoen in dié maande hou ook die voordeel in dat kalwers in ‘n beperkte periode gebore word. Dit kom daarop neer dat die bestuursproses van kalwers in ‘n kudde vergemaklik word ten opsigte van ‘n doseringsprogram, die onthoringing van kalwers, kastrasie, oorwintering, vetmesting en bemarking, wat alles stelselmatig kan geskied.

TABEL 1: Die invloed van speenpersentasie en – massa op die kilogramme kalfmassa (inkomste) per koei per jaar geproduseer:

VROEË LENTE VERSUS LAATSOMER KALWERS

‘n Voordeel van dié dek- en kalfseisoen, met die uitsondering van winterreënvalstreke, is dat kalwers in somerreënvalstreke oor die algemeen relatief vroeg in die lente gebore word. Dié kalwers het weens verskeie redes ‘n voorsprong bo ‘n kalf wat in die laatsomer gebore word. Die redes is:

  • ‘n Koei se voedingsbehoeftes is vir die eerste paar weke (ongeveer vyf weke) ná kalwing relatief laag. ‘n Baie hoë voedingspeil tydens die eerste vier tot vyf weke na kalwing dien geen doel nie, sienende die kalf se vermoë beperk is om veel meer as tussen 10% en 16% van sy liggaamsmassa (3.6kg – 5.6kg) in melk te benut. Wanneer kalwers na goeie reëns gebore word, en die veld se voedingswaarde is hoog, produseer ‘n koei aansienlik meer melk as wat deur haar kalf benut kan word. “Die kalf se onvermoë om die koei se melk, wat tydens vroeë laktasie beskikbaar is, te kan benut, het tot gevolg dat die melkproduksie van die vleisbeeskoei beperk word.”

 

  • “‘n Hoë voedingspeil vanaf ongeveer die vyfde tot die sesde week ná kalwing sal wenslike hoër melkproduksie by ‘n koei stimuleer. ‘n Kalf is dán groot genoeg om die verhoogde melkproduksie asook beskikbare gras ná die reën, optimaal te kan benut. “Die stimulasie van melkproduksie in ‘n stadium wanneer die kalf se voedingsbehoeftes hoër is, is een van die vernaamste redes waarom kalwers (wat ongeveer vier tot ses weke voor gras se hoogste voedingspeil bereik word, gebore word) heelwat swaarder speen teenoor kalwers wat later gebore word.”

 

  • Kalwers wat voor die somerreën gebore word, is minder onderhewig aan in- en uitwendige parasiete, wat aan dié diere ‘n verdere voorsprong bied bo kalwers wat later in die somer gebore word.

 

  • In die vroeë lente is die nadelige uitwerking van hittetoestande op die groei van jong kalwers minder teenoor die uitwerking daarvan in ‘n later stadium van die seisoen.

BESPARING IN VOERKOSTE

Produsente kan aansienlik bespaar op hul voerkostes, as ‘n dekseisoen plaasvind wanneer die voedingswaarde van die veld hoog is, en produksie in die proses nie ingeboet word nie. Dít is nog ‘n voordeel van die deeglike beplanning van ‘n korrekte dek- en kalfseisoen in somerreënvalgebiede, waar die reënseisoen in ag geneem word. Natuurlike weiding voldoen in die algemeen aan die proteïen- en energiebehoeftes van ‘n lakterende koei tydens die somermaande. Daarom behoort proteïen en/of energieaanvullings nie nodig te wees tydens ‘n normale reënseisoen wanneer geen weidingtekorte voorkom nie. ‘n Fosfaat lekaanvulling is egter steeds van groot belang. (Molatek Fosblock en Foslek).

DIE BELANG VAN ‘N LEKAANVULLING

Aanvullende voeding het die benutting van beskikbare weiding ten doel en in nat maande verseker dit maksimum gewigstoename wanneer die groen veldweiding hoër in verteerbare voedingstowwe is. ‘n Voldoende fosfaat- en spoormineraalaanvulling op groen, groeiende weiding is steeds nodig om hoë dierprestasie en verhoogde winsgewendheid te verseker.

Dit verbeter benutting van energie van groenweiding, stimuleer verhoogde inname van weiding en ovulasietempo vir ‘n hoër kalfpersentasie om maksimum wins te behaal. Daarmee saam word speenmassa van kalwers en groei na speen in die voerkraal verbeter.

DIE GELYKE AFNAME VAN VOEDINGSBEHOEFTES EN NATUURLIKE VELD

‘n Kalf is vir minder as 50% van sy voedselinname van sy ma se melk afhanklik wanneer die melkproduksie van die koei vanaf die 14de week ná kalwing begin afneem. Dienooreenkomstig is daar dan ‘n vermindering in die voedingsbehoeftes van die koei wat saamval met ‘n afname in die proteïenen energie-inhoud van die natuurlike veld. Dís nog ‘n voordeel van ‘n dekseisoen wat vanaf Desember tot Januarie strek met kalwing wat dan in die vroeë lente plaasvind.

WAAK TEEN DRASTIESE MASSAVERLIES

Die natuurlike veld voorsien oor die algemeen vanaf Februarie tot Maart aan die proteïen- en energiebehoeftes van die koei, 14 tot 26 weke na kalwing. Wees gewaarsku dat daar teen drastiese massaverlies gewaak moet word sienende die voedingswaarde van veral suurveld aansienlik vanaf Februarie kan afneem. Daar moet dan in hierdie gebiede reeds met ‘n oorgangslek (Molatek Kondisielek), wat ‘n proteienspoormineraalaanvulling is en geformuleer is om die kondisie van koeie te herstel, begin word. Sodoende word koeie se aptyt gestimuleer om die inname en verteerbaarheid van droë materiaal te verbeter sodat massaverlies gedurende die winter beperk word. Die kombinasie van proteïen- en spoorminerale stimuleer die vertering van laegehalte weiding/-veld, omdat dit die verteringsproses van die mikrobes in die rumen stimuleer. Spoorminerale lei tot verhoogde konsepsie, asook kalfpersentasie. In April bereik die die proteïen-inhoud van die veld ‘n kritiese stadium en die feit dat kalwers dan sowat 6 tot 8 maande oud is, kan hulle met suskses gespeen word. Dit is dan wanneer die koeie se voedingsbehoeftes op sy laagste is en dit val dan saam met die wintermaande wanneer die voedingswaarde van die veld die laagste in die somerreënvalstreke is. Verskaf gedurende die winter maande een van die volgende proteien onderhoudslekke: Molatek Wenlek 50, Dryveld 46 of Proteienlek 40.