Redakteur - Stockfarm, Plaas Media
Leonard “Kwagga” Roberts is die 2023 Brangus Jong Teler van die Jaar. Hy het sy Kwaggas Brangusstoet in 2018 geregistreer, maar hy boer reeds met kommersiële beeste sedert 1996. ‘Kwagga’ is die bynaam wat hy op skool reeds gekry het, na aanleiding van ‘n Leon Schuster film getiteld ‘Oh Schucks, it’s Untag’, waarin ‘n karakter Kwagga Roberts geheet het.
Hoewel die boerdery by Boshof in die Wes-Vrystaat gesetel is, is Leonard sy vrou Beatrix en hul seun HW op Hoopstad gevestig. Die Boshof-omgewing, sê Leonard, is beter beeswêreld waar hy sy beeste met slegs ‘n aanvullende lek deur die winter kan neem. Hierdie beskou hy as ‘n belangrike deel van sy seleksie, want sy diere moet aangepas wees om hulleself onder totaal ekstensiewe toestande te handhaaf.
“Ek het in 2001 voltyds plaas toe gekom, in die tyd toe my pa, Cliffard, my die geleentheid gegee het. Ek sal ook graag my seun HW die gelentheid wil bied wat my pa my gebied het. Waar ons tradisioneel op akkerbou en n melkery gefokus het met ‘n relatief klein kommersiële beeskomponent, het ek heeltemal oorgeskuif na beesboerdery. Die kommersiële diere en stoet diere word heeltemaal apart hanteer.”
Die somers by Boshof, verduidelik hy, is redelik kort – nie meer as vier maande nie. Dit beteken dat die beeste vir agt maande van die jaar op winterweiding moet oorleef. Dit is nie maklik nie maar gee hom die geleentheid om ‘n aangepaste dier te teel wat enige plek in die land sal kan aanpas.
Leonard is ‘n senior keurder vir die Genootskap, en sê hy, soos wat hulle deur die land ry om diere te keur, besef hy telkens dat die beste diere op elke teler se plaas, die is wat hy self geteel het en wat op die plaas grootgeword het, en daar aangepas is.
SELEKSIE
Diere, beide bulle en verse, wat Leonard bemark gaan twee winters deur waar hulle slegs ‘n produksielek kry. Verder selekteer hy sy diere streng vir vrugbaarheid en groei. Die kombinasie hiervan, glo hy, lei daartoe dat die diere wat hy verkoop in staat is om by hulle nuwe tuiste aan te pas en ‘n produktiewe lid van die nuwe kudde te wees.
Leonard tref ‘n onderskeid, as dit by die keuse van ‘n bul kom, tussen die mooiste bul en die regte bul vir ‘n spesifieke stoet op ‘n gegewe stadium.
“Ek sien so dikwels hoe kommersiële beesboere, en selfs stoettelers op ‘n veiling direk na die mooiste, dikste bul op die veiling stap en op hom bie, in die hoop dat daardie bul swaar speenkalwers sal produseer en dat dit die hoë prys van die bul sal regverdig. Daarteenoor mag dit wees dat daardie boer eintlik met ‘n strukturele probleem in sy kudde sit, en dat hy baie beter sal doen deur ‘n bul te kies wat daardie probleem sal versag. Op die langtermyn sal so ‘n bul ‘n baie groter positiewe invloed op die kudde uitoefen.”
Dit is vir hierdie rede dat Leonard glo dat dit boere baie sal baat om gereeld kursusse by te woon om hulle kennis, en veral hulle oog, op te skerp. Dit sal weer ‘n invloed op hulle bulkeuse hê, wat sonder twyfel ‘n positiewe effek op hulle langtermyn winsgewendheid sal hê.
“Die goue reël bly maar om die bul te kies wat die mees struktureel korrek is, en wat dan spesifiek sterk is in die eienskap wat jy in jou kudde wil verbeter. ‘n Goeie gebalanseerde bul is baie beter as ‘n bul wat miskien baie sterk eienskappe het, maar ‘n spesifieke swak eienskap ook het.”
VERVANGINGSVERSE
Wat seleksie vir vrugbaarheid betref, glo hy, is dit nodig om meedoënloos streng te wees by vervangingsverse. As ‘n vers op 22 maande bul toe gaan en nie dragtig raak nie, word sy summier uitgeskot. As ‘n vers na haar eerste kalf nie binne die toegelate dektyd weer dragtig raak nie, word sy uitgegooi. En as ‘n koei twee keer agtermekaar nie ‘n goeie kalf produseer nie, word sy ook uitgegooi.”
Die implikasie van hierdie benadering, verduidelik hy, is dat baie min vervangingsverse op die ou end in sy kudde bly. “Soos my seleksiebeleid egter vrugte afwerp behoort ‘n al groter persentasie verse in die kudde te bly.”
BULSELEKSIE
Wat die seleksie van die bulle betref wat hy in sy eie kudde gebruik is die heel eerste kriterium dat hulle uit baie goeie koeifamilies moet kom. Daarna kyk hy na strukturele korrektheid. “As die bul aan hierdie vereistes voldoen, en juis sterk is in die eienskappe waar ek in my kudde verbetering wil hê, sal ek daardie bul koop. Op hierdie stadium is prys nie die deurslaggewende faktor nie. Ek het al duur bulle gekoop omdat ek geglo het hulle sal ‘n verskil maak, maar ook minder duur bulle omdat die moederlyne al in verskeie stoeterye ‘n verskil gemaak het. Dan koop mens agter die genetika aan.”
SPEENBULLETJIES
By speen word al die bulletjies geklas en almal met strukturele foute word weggelaai. Die wat oorbly moet op die veld oorwinter. Daardie volgende somer, as hulle ongeveer 12 maande oud is, word hulle geweeg en weer geselekteer.
“Hoewel dit baie moeilik is vir ‘n dier om regdeur ons lang winters te bly groei, is dit een van my belangrike kriteria. Bulletjies moet ten minste teen 600 gram per dag bly groei met slegs ‘n produksielek op die veld.”
Op twaalf maande word hulle weer op grond van gewig en strukturele korrektheid geselekteer en weer veld toe gestuur vir die tweede winter. Die bulle wat deur die tweede winter kom en aan die vereistes voldoen, word dan gekies om vir bemarking afgerond te word.”
Die bulletjies word in ongeveer 40 hektaar kampe gehou, waar hulle ‘n Fase D-tipe konsentraat kry teen 1,5% van liggaamsmassa. Die res van hulle behoefte moet hulle dus self in die veld gaan soek. Dit beïnvloed hulle stapvermoë en hou die veselverterende mikrobes in die spysverteringstelsel in stand sodat hulle maklik aanpas op die nuwe eienaar se plaas.
In hierdie stelsel kom ongeveer 20% van sy bulle deur die hele seleksieproses.
“Mens moet altyd onthou dat dit nie primêr die stoetteler is wat ons bulle koop nie, maar kommersiële beesboere. Ons gemiddelde prys op ons produksieveiling verlede jaar was +-R92 000, en as ‘n kommersiële boer bereid is om so ‘n prys te betaal, moet jy weet dat hy redelik vertroue daarin het dat die bul by hom gaan werk. Hy moet weet dat die bul gehard grootgeword het en nie sommer uitmekaar sal val nie. Die beste maatstaf vir sukses is as ‘n koper jaar na jaar na jou terugkom vir nog bulle.”
Die bulmark verteenwoordig uiteenlopende vereistes, sê hy. Verskillende boere is op soek na verskillende eienskappe, daarom probeer hy om ‘n verskeidenheid tipes beskikbaar te stel. Sy verse, daarenteen, teel hy in die eerste plek vir homself, en omdat hy uiters hoë standaarde het, is die slaagsyfer vir die verse tans nog heelwat laer as vir die bulle.
BOU VAN ‘N STOET
Toe hy besluit het om ‘n Brangus stoet te begin, het hy die top kuddes in die land geïdentifiseer op grond van interkalfperiodes, prestasies en die invloed wat hulle op die ras het, en by daardie top kuddes het hy van hulle top vroulike diere gaan koop. Dit het meegebring dat hy ’n wye genetiese poel van top diere bymekaargetrek het in die Kwaggas-kudde.
“My oorhoofse doelwit is om met my diere ‘n verskil in die ras te maak. Dit is ‘n waarde wat ek by my oorlede oupa Leonard geleer het. Hy het ‘n groot invloed op my vorming as beesboer gehad.”
Op hierdie koeikudde wat verteenwoordigers was van die beste stoete in die land, het hy toe ‘n verskeidenheid van bulle gebruik wat hy gedink het komplimenterend sou wees om unieke nuwe lyne te vestig.
“Ek het in diepte na Amerikaanse genetika gekyk en saad uit Amerika gebruik, maar ook die plaaslike genetiese poel gefynkam vir bulle wat in my teelprogram ‘n verskil sou kon maak. My fokus was van die begin af op die ontwikkeling van goeie koeie, want dit is die basis van enige goeie stoet. In die proses het ek ‘n paar goeie bulle geteel wat ek self gebruik het. Die belangrikste egter is dat ek in die proses is om baie goeie moederlyne te ontwikkel, wat ek glo werklik ‘n verskil in die bedryf kan maak.”
PRESTASIE
Die sukses van sy teelbeleid kan gemeet word daaraan dat hy in 2022, en 2023 uitstekende resultate op die nasionale veiling behaal het, wat ʼn senior kampioen insluit asook die duurste vroulike dier vir die veiling.
“Dit is my mikpunt – dat my vroulike diere hoog aangeskryf moet wees. Om ‘n top bul te teel sal ‘n bonus wees, maar my fokus is op top vroulike diere. Ek is besig om top moederlyne te ontwikkel en ek doen dit deur my top koeie met top Amerikaanse en Suid Afrikaanse bulle te kombineer sodat die resultaat iets uniek aan Kwaggas Brangus is.”
Hy besef dat hy nog maar baie nuut in die bedryf is, maar hy glo dat hy reeds goeie vordering gemaak het.
In 2023 het Leonard en sy neef Andrew Roberts van Maize Valley Brangus ‘n gesamentlike produksieveiling gehou, en die aand voor die veiling het hulle die eerste amptelike Roberts Genetics Brangus semen en embrioveiling aangebied, wat ‘n reuse sukses was.
MIKPUNT
Leonard glo hy is nog ‘n goeie aantal jare weg van die punt dat hy kan sê sy hele vroulike kudde is die mooi funksioneel doeltreffende tipe waarna hy streef.
“Ek selekteer baie streng op my vervangingsverse, so my groei is maar stadig, maar ek glo dis die regte ding. Ek mag nie kompromitteer op my doelwitte ter wille van vinniger groei nie. Hoe strenger ek nou is, hoe beter gaan my kudde oor tien jaar wees.”
Die tipe koei waarvan hy in sy area hou is ‘n koei met effens meer vel en meer oor, en met sterker been, maar wat uiters vroulik is met ‘n baie goeie wigvorm.
“Optimale koeigewig hier by ons is tussen 550kg en 620kg, sodat die koei, teen die tyd dat sy haar kalf speen, darem nie onder ‘n gewig van rondom 480kg daal nie. Ons mik vir ‘n koei-kalf speenmassaverhouding van 45% tot 50%. Ons moet waak teen diere wat nie ‘n goeie konstitusie het nie.”
KOEIWINSGEWENDHEID
Anders as in sy kommersiële beesboerdery waar wins per hektaar die maatstaf is, moet elke koei in ‘n stoetkudde se waarde op grond van haar bydrae tot die kudde bereken word.
“Omdat ek my bulle eers op drie jaar ouderdom bemark, moet ek die winsgewendheidsom oor drie jaar maak. Ek bemark my verse as hulle dragtig is. Elke koei se winsgewendheid word dus oor ‘n lang termyn bereken, op grond van die prys wat haar nageslag behaal as hulle op 26 maande of op 3 jaar bemark word. En na jaar vyf, as haar vers wat ek teruggehou het ook begin produseer, dan neem haar winsgewendheid toe, en ek begin eksponensieel te groei. Die bulkalf wat ek terughou en in die kudde gebruik is ‘n bul wat ek nie hoef aan te koop nie. Om dus die winsgewendheid van ‘n koei te bereken is heelwat meer ingewikkeld as in ‘n kommersiële konteks. Dis ook waarom koeie wie se nageslag selde in die kudde teruggehou word, nie ‘n plek in die kudde het nie. Ek sal dus ‘n vers die eerste keer oorsien as sy ‘n swakker kalf gee, maar as sy die volgende jaar weer nie ‘n goeie kalf gee nie, moet sy gaan. Dis opmerklik dat jou goeie koeifamilies voorspelbaar goeie kalwers gee.”
Leonard gebruik graag Amerikaanse genetika maar selekteer ook plaaslike genetika. Hierdie bul is ‘n uitstekende voorbeeld van die tipe manlike diere waarna hy streef.
Dis vir Leonard krities belangrik dat al sy vroulike diere elke jaar ‘n goeie kalf produseer, anders is daar nie vir hulle plek in sy kudde nie.
Die konstitusie van vroulike diere is vir Leonard van uiterse belang om te sorg dat diere deur die somer en winter optimaal presteer.
BEMARKING
Sigbaarheid in die bedryf is ‘n kardinale vereiste vir ‘n stoetteler, sluit Leonard af.
“As mense nie van jou weet nie, sal jy doodgewoon nie hulle aandag trek nie, maak nie saak hoe goed jou diere is nie. In hierdie opsig speel my vrou Beatrix ‘n uiters belangrike rol. Dit is sy wat die bemarkingsveldtogte beplan en uitvoer en sorg dat ons stoet voortdurend onder die aandag van kopers en telers bly. My seun HW se passie vir die lewe en beeste is ʼn groot inspirasie vir my.
“My gesin is my voortbestaan! So hoop ek dat Brangus ook nog lank as ʼn gesin sal voortbestaan.”
Vir meer inligting, skakel: Leonard Roberts op 083 279 3523.