Beesboerdery is in my bloed. My primêre boerdery is in die Hoopstad-omgewing in die Wes-Vrystaat. Ek het grootgeword met ‘n gemengde boerdery waar die oorheersende faktor akkerbou was, verskeie gewasse was in die akkerboustelsel aangeplant. Die beesvertakking was ‘n sekondêre bron van inkomste, en van kindsbeen af het ek ‘n groot liefde vir beesboerdery gehad. In 2008 was ek bevoorreg om voltyds saam met my pa, Staal van Schalkwyk, te kon boer. Daarvoor kan ek hom nooit genoeg dankie sê nie. Soos die tyd verloop het, het ons, ek en my pa, die saaigronde verhuur en die beeskomponent eksponensieel uitgebrei. Deur die saaigronde te verhuur, is ons bevoorreg om steeds toegang te hê tot die oesreste wat ons tydens wintermaande kan gebruik as weiding.
Die kommersiële kudde het bestaan uit kruisrasbeeste waarvan die moederlyne gevestig was uit Simbra/Afrikaner-tipe koeie. Vandag is die Afrikaner- en Simbra- invloed nog steeds relatief hoog in die koeikudde, en ek is gelukkig daaroor. Omdat die beesvertakking oor ‘n wye gebied verspreid is, is die gehardheid van die Afrikaner steeds baie belangrik, terwyl die Simbra-invloed goeie melkeienskappe bied. Daar was jaarliks ‘n groot allerasveiling in Hoopstad, waar ons bulle aangekoop het. Verskeie rasse is vir spesifieke redes aangeskaf. Charolais is byvoorbeeld gebruik as terminale kruising op van die bontboerkoeie en het baie gewig toegevoeg.
Die liefde vir beesboerdery het ek geërf van my oupa, Burt van Schalkwyk, en my pa, Staal van Schalkwyk. Die rustigheid en kalmte wat beeste my gee, is iets wat my oupa ook altyd opgeval het by die diere. My oupa het die vermoë gehad om diere te herken aan die diere se voorkoms en persoonlikheid, en nie noodwendig aan die diere se ID-nommers nie. Vandag het ek ook die talente van my oupa om die vermoë te hê om al hierdie mooi in diere te kan raaksien. Daar is vir my geen groter vreugde as om op ‘n naweek, rustig saam met my vrou, Philna, tyd tussen die beeste te spandeer nie. Sy het self ‘n groot liefde en passie vir die beeste.
Vir my voel dit asof ‘n winterkalf wat op mieliereste wei, sy potensiaal beter en vinniger bereik as ‘n somerkalf. Die rede hiervoor is as gevolg van die hoë parasietbelading tydens die somermaande en die hoë reënval tydens kritieke groeiperiodes wat die kalf verhoed om lang ure te kan wei. ‘n Ander groot voordeel is dat die speenkalfpryse tydens Januarie/Februarie ook effens hoër is as die primêre speentyd in Mei/Junie. Vir my as ‘n speenkalfprodusent is dit ‘n groot kapitale inspuiting.
In 2010 is die eerste Brangus-bulle aangekoop vanaf die Harrismith-omgewing. Ek het vinnig besef watter hoë waarde Brangusse kan toevoeg tot ons kommersiële kudde. Die gladde haarkleed, loopvermoë en kalwingsgemak het vir my uitgestaan, en dit is waarom ek Brangus-bulle al hoe meer in my kudde gebruik. Brangus gee my ook die geleentheid om funksioneel doeltreffende vroulike diere te kan terughou as aanteelverse. Ons gebruik die Brangus- bulle op ‘n verskeidenheid rasse, en ek kan met gemak sê dat die Brangus vroulike diere uit al hierdie rasse besonderse koeie word.
Met my ekstensiewe beesboerdery wat in verskillende streke lê, is arbeid ‘n wesentlike probleem. Die vermoë wat die Brangus het om in een generasie ‘n poenskopkalf by ‘n Afrikaner-koei te kan teel, het my arbeidsprobleme baie vergemaklik. Die blote feit dat ek nie kalwers hoef te onthoring nie en deur daardie stresperiode te plaas nie, lewer al klaar ‘n beter speenkalf op. Deur gebruik te maak van Brangus-bulle, is ‘n groot gedeelte van my kudde alreeds poenskop.
Wat vir my opmerklik is van die Brangus-bulle wat ek op die verse gebruik het, is dat daar min kalwingsprobleme veroorsaak is. Ongeveer 90% van alle vervangingsverse wat gedek word, word Brangus- bulle op gebruik. Kalwingsgemak is vir my belangrik, aangesien ek ekstensief boer, en indien ‘n vroulike dier kalwingsprobleme ondervind, is die kans goed dat sy sal sterf.
Verskeie telers het my al genader om kommersiële vroulike diere op hul produksieveilings te verkoop. Die rede hiervoor is dat ek al ‘n klompie jare net geregistreerde Brangus-bulle koop. Dit dra by tot die kwaliteit van my speenkalwers en ook die verse wat teruggehou word. Kwaliteit vroulike diere, hetsy stoet of kommersieel, sal altyd ‘n goeie prys behaal.
Iets soos ‘n versebul bestaan nie vir my nie. Ek verwys altyd na die springbokke in die natuur. Die dominante ram is gewoonlik die grootste sterkste ram wat dan al die teelwerk doen. In die natuur kan diere nie op gewig of ouderdom geklas word vir teeldoeleindes nie. Ek glo dat hierdie jong diere wat fisiologies ryp is, vroeg dragtig word en het die natuurlike vermoë om hierdie lammers te kan lam sonder enige probleme. In my bestuurspraktyd volg ek dié filosofie. Ek glo dat mense die bedryf begin manipuleer het en teen die natuur begin boer het net soos dit hulle sak pas.
Vir my is vrugbaarheid uiters belangrik, ‘n koeie het een kans in haar leeftyd om nie herbeset te raak nie. Indien die dier vir ‘n tweede keer oorslaan sal sy geslag word. Ek voel dat ek ‘n koei een kans kan gee omrede dit duurder is om ‘n vers uit te laat groei as om die koei vir 5-6 maande aan te skuif na die volgende dekseisoen.
Een van die grootste pluspunte vir my is dat Brangus baie wyd oor Suid-Afrika voorkom. Dit is ‘n groot voordeel dat daar genoegsame Brangus-telers is om vanaf bulle te koop. Dit verseker my dat die bulle aangepas is in hierdie omgewing en gehard is teenoor die siektes wat hier voorkom.
Die Brangus poenskop kruisras-koei wat in my produksiestelsel opgeneem word, is ‘n uitstekende boerbees. Die konstitusie en kondisie van die koei en hoe sy haarself kan handhaaf terwyl sy ‘n goeie speenkalf langs haar het, is iets besonders. Die vroulike diere het ook goeie moedereienskappe met goeie medium uiers wat nie gaan hang na 4-5 jaar nie.
Vir my is die belangrikste om bulle te gaan koop by slegs geregistreerde telers. As mens geregistreerde bulle koop, weet jy dat die genetika en nodige toetse gedoen is, soos vereis deur Brangus SA. Een van die toetse wat ek klem op lê is die dubbelbespieringstoets. Dit is iets wat ek nie in my kudde wil inteel nie.
Vrugbaarheid is ook ‘n eienskap wat deurgaans hard voor geselekteer word. As daar bulle aangekoop word, mag die TKP van die moeder nie hoër as 400 dae wees nie. Ek weet watter eienskappe in die kudde verbeter moet word, en dat ek moet hard werk daaraan om dit te verbeter. Ek bestudeer die bulle die dag voor die tyd en kyk watter bulle by my teeldoelwitte pas. Die belangrikste is strukturele korrekte bulle met sterk bene, omrede ek ‘n ekstensiewe boerdery het, en die diere moet kan ver en gemaklik stap. Beesboerdery is in my bloed. Dit moet nie net winsgewend wees nie, maar die lekker van dit is onskatbaar!
Groete,
Burt van Schalkwyk.
Op die dag van die onderhoud, 8 Februarie 2024, het Burt vertel dat hy op Bloemfontein se veiling kalwers verkoop het. Hy noem dat as die kalf rooi is, met ‘n poenskop en ‘n goeie haarkleed het, behaal hulle sommer vinnig R4 meer per kilogram. Hy het vir kalwers van 240 kg R42/per kg gekry. Dit is ‘n verskil van ongeveer R960 per kalf. Op ‘n vrag kalwers van +-70 is dit ‘n verskil van amper R70 000 per vrag.
Ons by Brangus SA wil vir Burt bedank vir sy tyd en moeite met die artikel. Sterkte vorentoe en lekker Brangusse Boer!