Bestuurder van OVK Lewendehawe
Enige smous kan diere skuif, maar die bedryf stel vandag meer verwagtinge aan agente en daarom bied elke OVK bemarkingsadviseur die nodige ondersteuning aan die teler of produsent. “Die beplanning vir die volgende veiling begin ’n dag na die laaste veiling en behels geweldig baie elemente, maar dit begin by die aanbod. Dit is waar die bemarkingsadviseur saam met die boer deelneem aan die besluitnemings- en beplanningsproses.”
Johan verduidelik dat die betrokkenheid by ’n boer se telery ’n langtermynprojek is. “Dit is nie soos ’n gewas wat jy plant en ’n paar maande later stroop jy nie. As jy ’n spesifieke bul nou gebruik, kom sy kinders na ’n jaar in produksie en dan kom hulle kinders oor drie jaar in produksie.
Dit kan ses tot sewe jaar neem voordat jy die impak van die besluit om ’n spesifieke bul te gebruik, eers kan evalueer en die genetiese vordering sien.” Dit is om hierdie rede dat samewerking belangrik is en beplanning saam met die boer gedoen moet word. “Ons is baie betrokke by die telersgenootskappe om konstant op hoogte te wees ten opsigte van teelbeleide en die toekomstige oogmerke wat hulle wil bereik. Ons bemarkingsadviseurs neem ook deel aan al die kursusse wat die telersgenootskappe aanbied, wat keuring van bulle en beoordeling insluit en hulle leer sodoende die ras in diepte ken. Dit is wat die bemarkingsadviseur kwalifiseer om saam met die boer die volgende veiling se aanbod te kan beplan en bestuur. Dit sluit in voeding, gesondheid en toetse soos vrugbaarheid en dragtigheidstatus.” Benewens die aanbod is die tweede been in ’n veilingaanbieding die bemarking. “Die dae is verby waar jy net ’n advertensie in die Landbouweekblad kon plaas en die kopers daag op. Vandag het ons ’n baie langer aanloop tot en met die veiling deur aksies op bv. sosiale media te loods en bewustheid te skep. Besigtigingsdae ’n paar maande voor die veiling is uiters belangrik om die potensiële koopkrag betrokke te kry by jou kudde. Bemarking is dus ’n deurlopende aksie.
“Ek wil dit egter beklemtoon dat mense by mense koop. Menslike verhoudinge is ’n uiters belangrike element van ’n suksesvolle stoetveiling. Dit is nie net die bemarkingmaatskappy wat al die werk moet doen nie, maar ook die teler se betrokkenheid − sy nasorg is kritiek. Hy moet na die veiling uitvind hoe dit met sy bulle gaan, hoe hulle by die koper aanpas en self persoonlike besoeke aflê. Dit is die boere wat jaar in en jaar uit suksesvolle stoetveilings aanbied.” OVK Lewendehawe is slegs die bemarkingsvoertuig vir die veilingaanbieding. Dit is vir ons belangrik dat die teler se handelsmerk gevestig moet word met die hulp van al die bemarkingskundiges tot ons beskikking.”
Bek-en-klouseer en ander verwante siekte uitbrake berokken die bedryf baie skade en het ’n massiewe invloed op winste en operasionele bedrywighede. Een van OVK Lewendehawe se belangrikste doelwitte is die naspeurbaarheid en biosekuriteit wat bestuur moet word omdat dit weens verskeie redes nie meer deur die regerings gedoen word nie.
“Dit is die rede waarom daar nou weer bek-enklouseer en voëlgriep uitgebreek het. Die vermoë van die regering om hierdie siektes te beheer, het heeltemal weggeval en die verantwoordelikheid word afgewentel na die boer self. Dit is waar ons help om te verseker dat biosekuriteit en naspeurbaarheid op plaasvlak korrek en effektief is. Wanneer daar groot siektes soos bek-en-klouseer uitbreek en jou naspeurbaarheid is effektief, kan jy binne ’n dag bepaal waar dit uitgebreek het, en dit dan beperk.”
Johan verduidelik dat biosekuriteit op ’n konstante vlak toegepas word en nie net met uitbreek van siektes nie. “Dit word op al ons produksieveilings en weekveilings met streng maatreëls toegepas, met ander woorde diere word eers deur die veterinêre dienste nagegaan voor hulle verhandel word en daar word verseker dat ons binne die Veediefstalwet optree met betrekking tot die nagaan van brandmerke en ander kentekens. OVK Lewendehawe se bemarkingsadviseurs is almal by APAC geregistreer en tree volgens die voorgeskrewe reëls van APAC op.”
OVK se Lewendehawe-afdeling is ’n paar jaar gelede ontwikkel toe OVK by CMW betrokke geraak het en die afdeling het intussen tot nasionale verteenwoordiging gegroei in die groot- en kleinveesektore. “Lewendehawe tree ter ondersteuning vir die ander bedryfsareas soos handel, meganisasie en versekering op, om uiteindelik ’n omvattende diens aan die boer te kan lewer.” Tans word streekskantore vanuit Swellendam, Cradock, Aliwal-Noord, Ladybrand, Hopetown en Standerton bedryf. Elke streekskantoor het ’n bestuurder en ’n span adviseurs wat onder meer hand-tot-hand verkope hanteer asook die aanbieding van weeklikse en maandveilings, boereverenigingsveilings, produksie- en stoetveilings, spesiale veilings soos staakveilings en geregtelike veilings.
Die OVK Lojaliteitskema is ook van toepassing op OVK Lewendehawe en bona fide boere ontvang maandeliks ’n lojaliteitsvoordeel op die bruto winsbedrag van hul transaksies wat by OVK gedoen word. Die geld word maandeliks aangewend om aandele in OVK Beherend en/of Bedryf aan te koop en die boer ontvang selfs jaarliks dividende. Niemand word verplig om die aandele te behou nie, en die produsent het die reg om dit te verhandel en die opbrengs in sy kontantvloeibeplanning te inkorporeer. OVK Lewendehawe bied hul eie finansiering aan goedgekeurde abattoirs en voerkrale. Die OVK Kliëntefinansierings afdeling bied finansieringsprodukte ter ondersteuning van veeproduksie.
Hoe vergelyk die plaaslike lewendehawemark met internasionale markte? “Ons produseer onder baie moeilike omstandighede topgehalte vleis en diere. Ons land is semi-woestyn maar wat ons aanbod betref ten opsigte van kwaliteit, produk en genetika kompeteer ons met die beste in die wêreld. Die beperkende faktor is dat ons nie ons genetika die wêreld kan instuur nie as gevolg van swak veterinêre beheer deur ons regering. Sodra ons ons eie biosekuriteit en naspeurbaarheid in plek kry, is dit in die hande van die boer en iemand soos ’n OVK om self uitvoergeleenthede te skep. Saoedi- Arabië is ’n voorbeeld van ’n potensiële mark wat suksesvol ontgin is.”
Johan sien klimaatsverandering en die aanpassing daarby as die grootste uitdaging vir die lewendehawebedryf. “Die telersgenootskappe se beleide sal suiwer moet wees en voorsiening maak dat hulle diere vir die toekoms teel wat goeie hitte-uitruiling het en aanpasbaar is by die veranderde klimaat in spesifieke streke van die land wat warmer word. Hierdie diere sal dan ook in die veranderde klimaat moet kan produseer. Indien dit nie gebeur nie, gaan die ras uitsterf.