ROOIVLEIS PRODUSENTE ORGANISASIE

Picture of Gerhard Schutte
Gerhard Schutte

Hoofuitvoerende Beampte
Nasionale RPO

Dit is ‘n voldonge feit dat dit tans nie baie goed gaan met die ekonomie nie. Die groeikoers is laag, inflasie is hoog, en rentekoerse is hoog, terwyl die verbruiker se koopkrag baie laag is. Dit plaas rooivleisprodusente in ‘n posisie waar dit moeilik sal wees om ‘n beter prys vir hul produk te kry en die enigste opsie is om die mark te vergroot. 

Die goeie nuus is dat Suid-Afrikaans bees- en skaapvleis van ‘n baie hoë gehalte is weens die land se unieke klassifikasiestelsel waarvolgens jong diere geslag word. Verder het Suid-Afrika ‘n baie moderne voerkraalbedryf, en dit is relatief jonk in vergelyking met die voerkraalbedryf in lande soos Amerika. Die tegnologie in ons voerkrale is ook van hoogstaande gehalte. Die voerkraalbedryf is daarom in ‘n goeie posisie om uit te voer. Indien die uitvoermark van nader beskou word, is die dieresiektestatus van ‘n betrokke land bepalend of daardie land dit gaan regkry om uit te voer. Dieselfde geld vir genetiese materiaal uitvoere.

GENETIESE MATERIAAL-UITVOERE

Genetiese materiaal (lewendige diere, embrios en semen) van feitlik alle Suid-Afrikaanse plaasdiersoorte, maar veral ons inheemse rasse en selfs honde, is in groot aanvraag in die buiteland, wat onder andere meer ons buurlande en verskeie Europese en Suid-Amerikaanse lande insluit. Die belangrikste redes vir die gewildheid van veral ons inheemse rasse, is die integriteit van ons plaasdiertelers en die standaard van hul diereaantekening, die gehardheid, aanpasbaarheid en maklik hanteerbaarheid van Suid-Afrikaansgeteelde diere, asook hul bewese meerderwaardige genetiese produksiewaarde. 

Die behoefte aan genetiese materiaal uit Suid-Aftrika van telers en rooivleisprodusente is dus om hul diere se genetiese produksiepotensiaal te kan verbeter. So is dit dekades lank die gebruik van veral stoetsowel as kommersiële rooivleisprodusente vanuit ons buurlande om stoetveeveilings van verskeie rasse in Suid-Afrika te ondersteun. In sekere rasse ondersteun Suid-Afrikaanse telers weer veilings in byvoorbeeld Namibië en is daar tradisioneel ‘n gesonde wedersydse uitruil van genetika. 

Die SA Dorpertelersvereniging het byvoorbeeld miljoene rande se bestellings vir dorperembrios uit Rusland en ander Oosbloklande. Ander kleinveerasse soos boerbokke is weer gewild in Australië en Nieu-Seeland. So ook is daar vanuit onder andere sekere Suid-Amerikaanse lande ‘n groot aanvraag na beesembrios uit die gesogte Suid-Afrikaanse genepoel. 

Genetiese vordering in die rooivleisbedryf ten opsigte groot en kleinvee byvoorbeeld, het ‘n sneeubaleffek: hoe beter die kwaliteit, hoe groter die aanvraag na vleis; hoe groter die aanvraag na vleis, hoe groter die druk op telers om die genetiese produksiepotensiaal van hul diere verder te verbeter. Sodoende word die hele veebedryf, stoet sowel as kommersieel, bevoordeel. 

Ten einde Suid-Afrika se diverse omgewingstoestande en gepaardgaande wye spektrum van potensiële dieresiektes proaktief te monitor en beheermaatreëls te bespreek, het die veebedryf in 2006 die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF), in die lewe geroep. Hierdie forum geniet volle erkenning van die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en verteenwoordig alle diereproduksiesektore, veeartse, georganiseerde landbou en die Departement. 

Weens die toenemende krisis met die uitvoer van genetiese materiaal en die dreigende verlies aan kliënte wat elders na bewese hoë potensiaal genetiese materiaal begin soek, het die NAHF aan die begin van 2023 besluit om ‘n advieskomitee naamlik die “National Genetic Export Advisory Committee” (NGEAC), te vorm. Hierdie komitee se uitsluitlike mandaat is om die Departement van Dieregesondheid met aanvoorwerk en die onderhandelinge vir uitvoerprotokolle van genetiese materiaal by te staan.

ROOIVLEIS-UITVOERE

Toe bek-en-klouseer in Januarie 2019 buite die beheerde gebied uitgebreek het, het die bietjie uitvoere wat in daardie stadium uit ongeveer drie persent van plaaslike beesvleisproduksie en een persent van skaapvleisproduksie oornag gaan staan. Die implikasie daarvan is dat produsentepryse van speenkalwers, stoorlammers en rooivleis met bykans 25% geval het. 

Suid-Afrika het weens dié uitbreking ook sy bek-enklouseer vrye zone status by die wêreldorganisasie vir dieregesondheid verloor en die enigste manier waarop rooivleis uitgevoer kan word, is om bilaterale handelsooreenkomste te skep. 

Dit is positief dat Suid-Afrika in dié stadium beesvleis na 42 lande en skaapvleis na 13 lande uitvoer. Dit neem egter onderskeidelik vier persent van plaaslike geproduseerde beesvleis op, en een persent van skaapvleis. Daarom was die RPO instrumenteel in die daarstelling van Visie 2030, wat die mikpunt het om die uitvoer van plaaslike beesvleisproduksie na 20% te laat groei, en dié van skaapvleis na ses persent van plaaslike produksie te laat groei, hetsy dit lewendige slagskape of skaapvleis is. 

Alles moontlik moet gedoen word om Suid- Afrika se bek en klouseer vrye sone status by die wêreldorganisasie vir dieregesondheid te herwin. Die Nasionale Dieregesondheidsforum het in gesprek getree met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om die proses te bespoedig en weer ‘n aansoek in te dien vir die herwinning van Suid-Afrika se bek-enklouseer vrye zone status.

DIE BEK-EN-KLOUSEER TEGNIESE TAAKSPAN

Die Nasionale Gesondheidsforum het ‘n bek-enklouseer tegniese taakspan in die lewe geroep, wat die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling versoek het om duidelikheid te voorsien oor die volgende knelpunte met betrekking tot ‘n aansoek van Suid-Afrika by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid om as ‘n bek-en-klouseer vrye zone verklaar te word ingevolge Artikel 8.8.2 van die Terresteriale Dieregesondheidskode:

  • Gegewe die goeie vordering wat daar gemaak is met die huidige bek-en-klouseer-uitbrekings, is daar ‘n teikendatum vir ‘n aansoek van Suid-Afrika om die land se vrye zone-status te herwin?

  • Sal daar in die aansoek by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid enige oorweging daaraan geskenk word om KwaZulu-Natal of dele van KwaZulu-Natal uit te sluit van die res van die voorgenome vrye zone in die land (vry sonder inenting) weens die feit dat daar nou vier wildreservate in die noorde van die provinsie is wat besmette Afrika-buffels aanhou? Of word alternatiewe strategieë beplan om KwaZulu-Natal van die voorgestelde vrye gebied in te sluit of uit te sluit?

  • Sal daar verantwoordelikheid geneem word vir die patrollering en onderhoud van die internasionale grensheinings tussen grensposte vir doeleindes van siektebeheer?

  • Indien die verandering in die risiko-profiel vir die oordrag van bek-en-klouseer en die sosio-ekonomiese situasie van die huidige siektebestuursgebied in KwaZulu-Natal in ag geneem word, is daar enige planne of oorwegings om KwaZulu-Natal of dele daarvan as ‘n bek-enklouseer- vrye gebied met inenting te klassifiseer, of hoe gaan dit geskei word van die res van die voorgestelde vrye gebied?

  • Daar is begrip vir die feit dat die huidige vordering met die beheer van bek-en-klouseer in die res van die land met uitsluiting van KwaZulu- Natal, beteken daar kan binne sekere tydsbeperkinge voortgegaan word met die proses om by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid aansoek te doen om as vry van bek-en-klouseer sonder inenting beskou te word sodra daar aan die vereiste zero-waarneming en ander voorskrifte van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid voldoen kan word. Is die bedoeling om eers te wag totdat KwaZulu-Natal ten volle kan voldoen, alvorens ‘n aansoek by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid oorweeg sal word?

  • In ‘n onlangse verslag van die departement word daar gemeld dat die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap en die gebiede in Mpumalanga en Limpopo buite die waarnemingzones, nou vry sonder inenting is. Is dit in ooreenstemming met Artikel 8.8.2 van die Terresteriale Dieregesondheidskode, wat ‘n wagperiode van 12 maande ná inenting sowel as waarneming vereis om te bewys die virus sirkuleer glad nie in die gebiede waarvoor daar om vry van besmetting aansoek gedoen word, of is dit in ooreenstemming met die departement se interne klassifikasie wat nog nie aan die vereistes voldoen nie?

  • Indien daar in ag geneem word dat 12 maande sedert die laaste geval en inenting moet verloop, is dit die bedoeling om reeds nou waarnemingsdata in al die provinsies te bekom om te bewys die virus sirkuleer ook nie in gebiede buite die gebiede waar die uitbrekings voorgekom het nie, sodat die tyd wat benodig word om die finale aansoek by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid in te dien, korter kan wees?

  • Die Nasionale Dieregesondheidsforum kan behulpsaam wees met zero-waarneming. Sal die departement dit oorweeg?

  • Sal die drie provinsies wat nog nooit uitbrekings van bek-en-klouseer gehad het nie (Wes-Kaap, Oos-Kaap en die Noord-Kaap) ook aan zerowaarneming onderwerp word om te bewys geen sirkulasie van die virus vind plaas nie?

  • Die Nasionale Dieregesondheidsforum het al by verskeie geleenthede sy kommer uitgespreek oor die swak toestand van die internasionale heinings wat veronderstel is om die oordrag van dieresiektes, veral beken- klouseer, van ons noordelike buurlande te verhoed. Hoewel die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling verteenwoordiging op die ministeriële komitee van die Grensbestuursowerheid sowel as op die Grens Tegniese Komitee het, is dit onduidelik of dié instellings sanitêre beheer by die land se internasionale grense sal toepas. Sal daar verantwoordelikheid geneem word vir die patrollering en onderhoud van die internasionale grensheinings tussen grensposte vir doeleindes van siektebeheer, of sal dié verantwoordelikhede met die departement en die provinsies gedeel word om te verseker siektes steek nie ons internasionale grense oor nie?