Uit die VSA na Suid-Afrika

Die Brangus-ras het sy ontstaan in die Verenigde State (VSA) gehad. Navorsers en veekundiges het proewe gedoen en in die veertigerjare besluit op ’n samestelling van 3/8 Brahman en 5/8 Angus. Vanjaar vier die Brangus internasionaal sy 75-jarige bestaan. In Suid-Afrika was wyle Raymond Green van Ladysmith in KwaZulu-Natal, die eerste persoon wat Brangus-beeste begin ontwikkel het. In die laat tagtigerjare het die Brangus sy regmatige plek as ’n volwaardige beesras in Suid-Afrika begin volstaan.

 

Brahman en Angus as basisdiere

Die Angus is die grootste en getalrykste beesras in die wêreld. Met hul klein kalfies, baie melk, goeie vleisgehalte, poenskopfaktor, en omdat dit ’n Bos taurus bees is, was die logiese keuse om ’n Angus as basisdier te gebruik.

Die Brahman, aan die ander kant, is die getalrykste ras in die tropiese en subtropiese gebiede van die wêreld. Met hul langslewendheid, gehardheid en aanpasbaarheid, en die feit dat dit ’n Bos indicus is, was dit ’n goeie keuse.

 

Waar laat dit die Brangus?

Brangusse het ’n aantal eienskappe wat hulle geskik maak vir plaaslike toestande:

  • Brangus is ’n hoogs aanpasbare ras wat regoor Suid-Afrika voorkom. Enige streek of produksiestelsel kan Brangusse maklik hanteer en hulle gedy oral. Met hul langer hare in die winter en kort, gladde hare in die somer is die diere gereed vir alle omstandighede. Brangus-beeste handhaaf ’n goeie konstitusie op die veld.

 

  • Brangus is by uitstek ’n moederlyn-ras wat klein kalfies by geboorte lewer, met kalwers wat bogemiddelde gewigte speen. Die ras kan as ‘n natuurlike kurweknakker beskou word; met ander woorde, klein kalwers by geboorte, bogemiddelde speengewig en diere wat by hul volwasse gewig ’n mediumraam dier is. Branguskoeie kan met gemak tot 50% van hul eie gewig speen, wat die diere baie doeltreffend maak.

 

  • Goeie gehalte speenkalwers kan elke jaar gelewer word omdat die ras baie vrugbaar is. Die ras is bekend vir goeie moedereienskappe met goeie melk en funksionele uiers wat by kalwingsgemak aansluit. Kalwingsgemak verseker dat die koeie vinnig siklies word en dan vinnig dragtig raak om hoë vrugbaarheid te verseker.

 

  • Bulle, daarenteen, kan met groot sukses in verskeie kruisteelprogramme gebruik word. Brangus is ’n poenskopras wat kan verseker dat kruiskalwers tot 60% poenskop kan wees. Gebruik dus Brangusbulle om jou kalwers geneties te onthoring. Sterk, lewenskragtige kalwers verseker dat kalwers geteel word wat geskik is vir en gewild is by voerkrale. Kalwers beskik oor ’n baie goeie voeromsetverhouding, wat meebring dat hulle maklik afrond en ’n bogemiddelde karkas van hoë gehalte lewer. Hoë uitslagpersentasies word verkry met die gebruik van Brangusbulle. Brangus vaar gereeld goed by verskeie karkaskompetisies regoor Suid-Afrika.

Die feit dat Brangusbulle ‘n poenskopras is, beteken hulle kan met groot sukses in kruisteelprogramme gebruik word om tot 60% poenskop-kruiskalwers te lewer.

Die kombinasie van die Angus en Brahman het ’n beesras gelewer wat bekend is as ’n maklike boerbees wat al die eienskappe besit om beesboerdery maklik en doeltreffend te maak. Met ’n goeie temperament en bogemiddelde eienskappe regdeur die spektrum, is die Brangus ’n baie goeie ras en keuse om in te belê. Die ras groei steeds jaarliks bogemiddeld, met al hoe meer telers en beesgetalle. Tesame met ’n goed gestruktureerde telersgenootskap en kantoor, sien ons daarna uit om produsente en telers by ons Brangusfamilie te verwelkom.