Waarom Brangus?
Want enige land is Brangus-land!

Daar is soveel beesrasse om van te kies en wat in Suid-Afrika gedy. So waarom moet ’n beesprodusent dan die Brangus as ras oorweeg? Brangus SA gee ’n aantal riglyne.

Poenskop

Die Brangus is die enigste sintetiese/saamgestelde ras in Suid-Afrika wat natuurlik, homosigoties poenskop is. As gevolg hiervan sal jy tot 60% poenskopdiere in die eerste generasie hê deur Brangus-bulle op enige kudde te gebruik. Daar is net drie natuurlike poenskoprasse in Suid-Afrika, en die Brangus is een van die uiteindelike gunstelinge. Omdat Brangus-kalwers natuurlik poenskop is, is hulle vinniger om te verwerk, makliker om te hanteer en jy bespaar op onthoorningskoste.

Gehard

Die Brangus het deur streng natuurlike seleksie kenmerke soos siekteweerstand, algehele gehardheid en uitstekende moederinstinkte ontwikkel. Die kombinasie van twee hoogs suksesvolle ouerrasse lei tot hierdie gehalte-eienskappe.

Aanpasbaar

Brangus SA gee baie aandag aan ons diere se konstitusie. Konstitusie verwys na die vermoë om deur die jaar doeltreffende prestasie en goeie kondisie met minimale vereistes te handhaaf. Met goeie konstitusie sal diere in ’n korter tyd dragtig word.

Koeie sonder probleme

Brangus- en Brangus F1-kruiskoeie is bekend vir hul uitsonderlike moedereienskappe en bied derhalwe groot kalfgemak, hoë vrugbaarheid en ‘n goeie temperament. Brangus-koeie het ook goeie oorlewingsinstinkte, melkproduksie en funksionele uiers waaraan die kalwers maklik kan suip.

Kalwingsgemak

Kalwingsgemak verwys na die koei se vermoë om ’n kalf te lewer wat by geboorte tussen 7 en 8% van haar eie liggaamsgewig weeg. Deur Brangus-bulle te gebruik, kan jy die kalwingsgemak in enige kudde verhoog. Die Brangus het die vermoë om kalwers te teel wat groei en uitstekend presteer.

Brangus-koeie het goeie moederinstinkte en daarby is kalwingsgemak een van die uitstaande kenmerke van die ras.

Haargehalte

Haarkleed-eienskappe word gebruik as aanwysers van diere se aanpasbaarheid vanweë hierdie eienskappe se belangrikheid vir hitteregulering en weerstand teen parasiete. Vir Suid-Afrika se diverse landskap bied dit ’n groot voordeel.

Goeie gehalte vleis

Die kombinasie van twee hoogs suksesvolle ouerrasse lei tot ’n ras wat hul eienskappe bymekaarbring. Angusse is bekend vir hul voortreflike karkaseienskappe, wat ’n eie mark vir uitstekende beesvleisgehalte skep. In Suid-Afrika word boere nog nie vir goeie gehalte vleis beloon nie, maar ons glo dat dit binne die volgende paar jaar werklikheid sal word.